We Love God!

God: "I looked for someone to take a stand for me, and stand in the gap" (Ezekiel 22:30)

Quit griping about your church; if it was perfect, you couldn't belong.

Bible – Afrikaans – Spreuke van Salomo Chapter 28:1-28.

Index: Afrikaans

 

Spreuke van Salomo 28

[1]
[2]
[3]
[4]
[5]
[6]
[7]
[8]
[9]
[10]
[11]
[12]
[13]
[14]
[15]
[16]
[17]
[18]
[19]
[20]
[21]
[22]
[23]
[24]
[25]
[26]
[27]
[28]
[29]
[30]
[31]

28:1 Die goddelose vlug sonder dat daar ‘n vervolger is, maar die regverdiges voel hulle veilig soos ‘n jong leeu.

28:2 Deur die oortreding van ‘n land word sy vorste baie, maar deur ‘n verstandige mens met kennis is die reg duursaam.

28:3 ‘n Man wat arm is en die armes verdruk, is soos ‘n reën wat wegspoel en geen brood bring nie.

28:4 Die wat die wet verlaat, hulle prys die goddelose; maar die wat die wet onderhou, word vererg oor hulle.

28:5 Slegte mense verstaan die reg nie, maar die wat die HERE soek, verstaan alles.

28:6 Die arme wat in sy regskapenheid wandel, is beter as die verkeerde wat twee paaie wil loop en daarby ryk is.

28:7 Wie die wet bewaar, is ‘n verstandige seun; maar hy wat met deurbringers omgaan, steek sy vader in die skande.

28:8 Wie sy goed vermeerder deur rente en deur woeker, maak bymekaar vir een wat hom oor die armes sal ontferm.

28:9 Wie sy oor wegdraai om nie na die wet te luister nie, selfs sy gebed is ‘n gruwel.

28:10 Wie die opregtes laat verdwaal op ‘n verkeerde weg, sal self in sy eie kuil val; maar die regskapenes sal die goeie beërwe.

28:11 ‘n Ryk man is wys in sy eie oë; maar ‘n arme wat verstandig is, ondersoek hom terdeë.

28:12 As die regverdiges juig, is die heerlikheid groot; maar as die goddelose opkom, moet die mense gesoek word.

28:13 Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind.

28:14 Gelukkig is die mens wat gedurigdeur vrees; maar hy wat sy hart verhard, sal in die onheil val.

28:15 ‘n Leeu wat brom, en ‘n beer wat hongerig is, so is ‘n goddelose wat oor ‘n arm volk heers.

28:16 ‘n Vors wat gebrek aan verstand het, is wel ryk aan afpersinge, maar die wat onregverdige wins haat, sal die dae verleng.

28:17 ‘n Mens wat gedruk word deur die bloed van ‘n mens, sal vlug tot by die graf; laat niemand hom vashou nie.

28:18 Wie opreg wandel, sal gehelp word; maar hy wat verward is, wat die twee paaie betref, sal meteens val.

28:19 Wie sy land bewerk, het volop brood; maar hy wat nietighede najaag, het armoede volop.

28:20 ‘n Betroubare man is ryk aan seëninge; maar hy wat haastig is om ryk te word, sal nie ongestraf bly nie.

28:21 Om partydig te wees, is nie goed nie, want ook vir ‘n stuk brood kan ‘n man ‘n oortreding begaan.

28:22 ‘n Afgunstige man oorhaas hom om ryk te word, en hy weet nie dat gebrek oor hom sal kom nie.

28:23 Hy wat ‘n mens teregwys, sal agterna meer guns vind as hy wat vlei.

28:24 Wie sy vader of sy moeder berowe, en sê: Dit is geen oortreding nie! –hy is ‘n bondgenoot van ‘n man wat verderflik handel.

28:25 Die hebsugtige verwek twis; maar hy wat op die HERE vertrou, word verkwik.

28:26 Wie op sy eie hart vertrou, hy is ‘n dwaas; maar hy wat in wysheid wandel, word gered.

28:27 Wie aan die arme gee, sal nie gebrek ly nie; maar hy wat sy oë toemaak, word swaar vervloek.

28:28 As die goddelose opkom, verberg die mens homself; maar as hulle omkom, word die regverdiges baie.