We Love God!

God: "I looked for someone to take a stand for me, and stand in the gap" (Ezekiel 22:30)

Jesus: He's holding your atoms together

Bible – Afrikaans – Die Evangelie volgens Johannes Chapter 1:1-51.

Index: Afrikaans

 

Die Evangelie volgens Johannes 1

[1]
[2]
[3]
[4]
[5]
[6]
[7]
[8]
[9]
[10]
[11]
[12]
[13]
[14]
[15]
[16]
[17]
[18]
[19]
[20]
[21]

1:1 In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.

1:2 Hy was in die begin by God.

1:3 Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.

1:4 In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense.

1:5 En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie.

1:6 Daar was ‘n man van God gestuur, wie se naam Johannes was.

1:7 Hy het tot ‘n getuienis gekom om van die lig te getuig, sodat almal deur hom sou glo.

1:8 Hy was nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig.

1:9 Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld.

1:10 Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en die wêreld het Hom nie geken nie.

1:11 Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie.

1:12 Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;

1:13 wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is.

1:14 En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon–en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom–vol van genade en waarheid.

1:15 Johannes getuig van Hom en roep en sê: Dit was Hy van wie ek gesê het: Hy wat ná my kom, het voor my geword, want Hy was eerder as ek.

1:16 En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade.

1:17 Want die wet is deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.

1:18 Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom verklaar.

1:19 En dit is die getuienis van Johannes, toe die Jode uit Jerusalem priesters en Leviete gestuur het om hom te vra: Wie is u?

1:20 En hy het erken en nie ontken nie, maar het erken: Ek is nie die Christus nie.

1:21 Toe vra hulle hom: Wat dan? Is u Elía? En hy sê: Ek is nie. Is u die profeet? En hy antwoord: Nee.

1:22 Toe sê hulle vir hom: Wie is u? –dat ons antwoord kan gee aan die wat ons gestuur het. Wat sê u van uself?

1:23 Hy antwoord: Ek is die stem van een wat roep in die woestyn: Maak die pad van die Here reguit! soos Jesaja, die profeet, gesê het.

1:24 En die wat gestuur was, was uit die Fariseërs.

1:25 En hulle vra hom en sê vir hom: Waarom doop u dan as u nie die Christus of Elía of die profeet is nie?

1:26 Johannes antwoord hulle en sê: Ek doop met water, maar onder julle staan Hy vir wie julle nie ken nie–

1:27 dit is Hy wat ná my kom, wat voor my geword het, wie se skoenriem ek nie waardig is om los te maak nie.

1:28 Dit het gebeur in Betábara, oorkant die Jordaan, waar Johannes besig was om te doop.

1:29 Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!

1:30 Dit is Hy van wie ek gesê het: Ná my kom ‘n man wat voor my geword het, want Hy was eerder as ek.

1:31 En ek het Hom nie geken nie; maar dat Hy aan Israel openbaar sou word, daarom het ek gekom en met water gedoop.

1:32 En Johannes het getuig en gesê: Ek het die Gees soos ‘n duif uit die hemel sien neerdaal, en Hy het op Hom gebly.

1:33 En ek het Hom nie geken nie; maar Hy wat my gestuur het om met water te doop, Hy het aan my gesê: Op wie jy die Gees sien neerdaal en op Hom bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.

1:34 En ek het gesien en getuig dat Hy die Seun van God is.

1:35 Die volgende dag het Johannes weer daar gestaan en twee van sy dissipels;

1:36 en toe hy Jesus sien wandel, sê hy: Dáár is die Lam van God!

1:37 En die twee dissipels het hom dit hoor sê en Jesus gevolg.

1:38 En toe Jesus Hom omdraai en hulle sien volg, sê Hy vir hulle: (1:39) Wat soek julle? En hulle antwoord Hom: Rabbi–dit wil sê, as dit vertaal word, Meester–waar is U tuis?

1:39 Hy sê vir hulle: Kom kyk. Hulle het gegaan en gesien waar Hy tuis was en dié dag by Hom gebly. En dit was omtrent die tiende uur.

1:40 Andréas, die broer van Simon Petrus, was een van die twee wat dit van Johannes gehoor en Hom gevolg het.

1:41 Hy het eers sy eie broer Simon gekry en vir hom gesê: Ons het die Messías gevind–dit is, as dit vertaal word, die Christus.

1:42 En hy het hom na Jesus gelei. Toe kyk Jesus hom aan en sê: Jy is Simon, die seun van Jona; jy sal genoem word Céfas, wat vertaal word Petrus.

1:43 Die volgende dag wou Jesus na Galiléa vertrek; en Hy het Filippus gekry en vir hom gesê: Volg My.

1:44 En Filippus was van Betsáida, uit die stad van Andréas en Petrus.

1:45 Filippus het Natánael gekry en vir hom gesê: Ons het Hom gevind van wie Moses in die wet en ook die profete geskrywe het: Jesus, die seun van Josef van Násaret.

1:46 En Natánael sê vir hom: Kan daar uit Násaret iets goeds wees? Filippus antwoord hom: Kom kyk.

1:47 Daarop sien Jesus Natánael na Hom toe kom en sê van hom: Hier is waarlik ‘n Israeliet in wie daar geen bedrog is nie.

1:48 Natánael sê vir Hom: Waarvandaan ken U my? Jesus antwoord en sê vir hom: Voordat Filippus jou geroep het toe jy onder die vyeboom was, het Ek jou gesien.

1:49 Natánael antwoord en sê vir Hom: Rabbi, U is die Seun van God, U is die Koning van Israel!

1:50 Jesus antwoord en sê vir hom: Glo jy omdat Ek vir jou gesê het: Ek het jou onder die vyeboom gesien? Jy sal groter dinge sien as dit.

1:51 En Hy sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, van nou af sal julle die hemel geopend sien en die engele van God opklim en neerdaal op die Seun van die mens.