We Love God!

God: "I looked for someone to take a stand for me, and stand in the gap" (Ezekiel 22:30)

If we can think and feel and love, our Maker can do all that and more

Bible – Afrikaans – 1 Johannes Chapter 4:1-21.

Index: Afrikaans

 

1 Johannes 4

[1]
[2]
[3]
[4]
[5]

4:1 Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan.

4:2 Hieraan ken julle die Gees van God: elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God;

4:3 en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie; en dit is die gees van die Antichris waarvan julle gehoor het dat hy kom, en hy is nou al in die wêreld.

4:4 Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is.

4:5 Hulle is uit die wêreld; daarom praat hulle uit die wêreld, en die wêreld luister na hulle.

4:6 Ons is uit God; hy wat God ken, luister na ons; hy wat nie uit God is nie, luister nie na ons nie. Hieruit ken ons die Gees van die waarheid en die gees van die dwaling.

4:7 Geliefdes, laat ons mekaar liefhê; want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God.

4:8 Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde.

4:9 Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe.

4:10 Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ‘n versoening vir ons sondes.

4:11 Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te hê.

4:12 Niemand het God ooit aanskou nie. As ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons volmaak geword.

4:13 Hieraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons, dat Hy ons van sy Gees gegee het.

4:14 En ons het aanskou en ons getuig dat die Vader die Seun as Verlosser van die wêreld gestuur het.

4:15 Elkeen wat bely dat Jesus die Seun van God is–God bly in hom, en hy in God.

4:16 En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom.

4:17 Hierin het die liefde by ons volmaak geword, dat ons vrymoedigheid kan hê in die oordeelsdag; want soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld.

4:18 Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie.

4:19 Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.

4:20 As iemand sê: Ek het God lief–en sy broeder haat, is hy ‘n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie?

4:21 En hierdie gebod het ons van Hom dat hy wat God liefhet, ook sy broeder moet liefhê.