We Love God!

God: "I looked for someone to take a stand for me, and stand in the gap" (Ezekiel 22:30)

When I grow up, I want to be like Jesus.

Bible – Afrikaans – Jesaja Chapter 19:1-25.

Index: Afrikaans

 

Jesaja 19

[1]
[2]
[3]
[4]
[5]
[6]
[7]
[8]
[9]
[10]
[11]
[12]
[13]
[14]
[15]
[16]
[17]
[18]
[19]
[20]
[21]
[22]
[23]
[24]
[25]
[26]
[27]
[28]
[29]
[30]
[31]
[32]
[33]
[34]
[35]
[36]
[37]
[38]
[39]
[40]
[41]
[42]
[43]
[44]
[45]
[46]
[47]
[48]
[49]
[50]
[51]
[52]
[53]
[54]
[55]
[56]
[57]
[58]
[59]
[60]
[61]
[62]
[63]
[64]
[65]
[66]

19:1 Godspraak oor Egipte. Kyk, die HERE ry op ‘n vinnige wolk en kom na Egipte toe; en die afgode van Egipte wankel voor sy aangesig, en die hart van Egipte smelt in sy binneste.

19:2 En Ek sal Egipte teen Egipte ophits, sodat hulle sal veg, elkeen teen sy broer en elkeen teen sy naaste, stad teen stad, koninkryk teen koninkryk.

19:3 En die gees van Egipte sal radeloos word in sy binneste, en sy planne sal Ek verwar; dan raadpleeg hulle die afgode en die besweerders en die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê.

19:4 En Ek sal Egipte oorgee in die hand van ‘n harde meester, en ‘n strenge koning sal oor hulle heers, spreek die Here HERE van die leërskare.

19:5 En die waters sal uit die groot waterplas verdwyn, en die rivier sal uitdroog en droog lê.

19:6 En die strome sal stink; die strome van Egipte sal swak word en uitdroog; riet en biesies sal verwelk.

19:7 Die weivelde by die Nyl, by die mond van die Nyl, en elke saailand van die Nyl sal verdor, verwaai en nie meer wees nie.

19:8 En die vissers sal klaag, en almal wat hoeke in die Nyl uitgooi, rou bedrywe; en die wat visnette uitsprei oor die waters, sal verkwyn.

19:9 En die bewerkers van uitgekamde vlas staan beskaamd, en die wewers van wit stowwe.

19:10 En sy steunpilare word verbrysel; almal wat vir loon werk, sielsbedroef.

19:11 Die vorste van Soan is net dwase, die raad van Farao se slimste raadgewers het domheid geword. Hoe kan julle vir Farao sê: Ek is ‘n seun van die wyse manne, ‘n seun van die konings uit die voortyd?

19:12 Waar is hulle dan, jou wyse manne? Laat hulle jou tog te kenne gee, dat ‘n mens kan weet wat die HERE van die leërskare oor Egipte besluit het.

19:13 Die vorste van Soan het dwase geword, die vorste van Nof is bedroë; Egipte is op ‘n dwaalweg gebring deur hulle wat die hoeksteen van die stamme is.

19:14 Die HERE het daarin ‘n gees van bedwelming gegiet, en Egipte is op ‘n dwaalweg gebring in al sy werk, soos ‘n dronkaard tuimel in sy uitbraaksel.

19:15 So is daar dan vir Egipte geen werk wat gedoen word deur kop of stert, palmtak of biesie nie.

19:16 In dié dag sal die Egiptenaars wees soos die vroue: hulle sal bewe en vrees vir die handgeswaai van die HERE van die leërskare wat Hy teen hulle swaai.

19:17 En die land Juda sal vir die Egiptenaars ‘n skrik wees: as iemand daarvan melding maak by hulle, bewe hulle vanweë die besluit van die HERE van die leërskare wat Hy teen hulle geneem het.

19:18 In dié dag sal daar vyf stede in Egipteland wees wat die taal van Kanaän spreek en by die HERE van die leërskare sweer; een sal genoem word: Stad van verwoesting.

19:19 In dié dag sal daar ‘n altaar wees vir die HERE binne-in Egipteland en ‘n gedenksteen vir die HERE by die grens.

19:20 En dit sal wees ‘n teken en ‘n getuie vir die HERE van die leërskare in Egipteland; as hulle die HERE aanroep vanweë die verdrukkers, sal Hy aan hulle ‘n redder stuur en ‘n stryder wat hulle sal verlos.

19:21 En die HERE sal Hom aan die Egiptenaars bekend maak, en die Egiptenaars sal die HERE ken in dié dag; en hulle sal Hom dien met slagoffers en spysoffers en geloftes doen aan die HERE en dit betaal.

19:22 En die HERE sal die Egiptenaars slaan, slaan en genees; en hulle sal hul tot die HERE bekeer, en Hy sal hulle verhoor en hulle genees.

19:23 In dié dag sal daar ‘n grootpad wees van Egipte na Assirië, en Assiriërs sal in Egipte kom en Egiptenaars in Assirië; en Egipte sal saam met Assirië die HERE dien.

19:24 In dié dag sal Israel die derde wees naas Egipte en Assirië, ‘n seën in die midde van die aarde,

19:25 omdat die HERE van die leërskare hom geseën het, met die woorde: Geseënd is my volk Egipte en my maaksel Assirië en my erfdeel Israel!