We Love God!

God: "I looked for someone to take a stand for me, and stand in the gap" (Ezekiel 22:30)

Luck has nothing to do with it

Bible – Afrikaans – Klaagliedere van Jeremia Chapter 3:1-66.

Index: Afrikaans

 

Klaagliedere van Jeremia 3

[1]
[2]
[3]
[4]
[5]

3:1 Alef. Ek is die man wat ellende gesien het deur die roede van sy grimmigheid.

3:2 My het Hy gelei en laat wandel in duisternis sonder lig.

3:3 Ja, altyd weer draai Hy die hele dag sy hand teen my.

3:4 Bet. Hy het my vlees en my vel laat wegteer, my gebeente verbreek.

3:5 Hy het my met ‘n bouwerk omsingel van gif en moeite.

3:6 Hy het my in donker plekke laat sit soos die wat lankal dood is.

3:7 Gimel. Hy het my toegemuur, sodat ek nie kan uitkom nie, my koperboeie swaar gemaak.

3:8 Al skreeu ek ook en al roep ek om hulp, Hy laat my gebed onverhoord.

3:9 Hy het my weë toegemuur met gekapte klip, my paaie onbegaanbaar gemaak.

3:10 Dalet. Hy is ‘n beer wat my voorlê, ‘n leeu in skuilplekke.

3:11 Hy het my weë laat wegdraai en my verskeur, my tot ‘n woesteny gemaak.

3:12 Hy het sy boog gespan en my as ‘n teiken vir die pyl opgestel.

3:13 He. Hy het die pyle uit sy pylkoker in my niere laat ingaan.

3:14 Ek het ‘n belagging geword vir my hele volk, hulle spotlied die hele dag.

3:15 Hy het my met bitter kruie versadig, my genoeg wilde-als laat drink.

3:16 Wau. En Hy het my die tande op gruisklippertjies laat stukkend byt, my in die as neergedruk.

3:17 En U het my siel van die vrede verstoot, ek het die goeie vergeet.

3:18 Ja, ek het gesê: My roem het vergaan en my hoop op die HERE.

3:19 Sajin. Dink aan my ellende en my omswerwing, aan die wilde-als en die gif.

3:20 As my siel terdeë daaraan dink, buig hy hom neer in my.

3:21 Dit sal ek ter harte neem, daarom sal ek hoop:

3:22 Get. dit is die goedertierenhede van die HERE dat ons nie omgekom het nie, want sy barmhartighede het geen einde nie;

3:23 hulle is elke môre nuut; u trou is groot.

3:24 Die HERE is my deel, sê my siel, daarom sal ek op Hom hoop.

3:25 Tet. Goed is die HERE vir die wat op Hom hoop, vir die siel wat Hom soek.

3:26 Dit is goed om in stilheid te hoop op die hulp van die HERE.

3:27 Dit is goed vir ‘n man dat hy die juk in sy jeug dra.

3:28 Jod. Laat hom eensaam sit en swyg, as Hy hom dit opgelê het.

3:29 Laat hy sy mond in die stof steek–miskien is daar hoop!

3:30 Laat hy die wang gee vir die wat hom slaan, laat hy genoeg kry van smaad.

3:31 Kaf. Want die Here sal nie vir ewig verstoot nie.

3:32 Maar as Hy bedroef het, ontferm Hy Hom na die grootheid van sy goedertierenhede;

3:33 want nie van harte verdruk of bedroef Hy die mensekinders nie.

3:34 Lamed. Dat hulle al die gevangenes van die aarde onder hul voete vertrap,

3:35 dat hulle die reg van ‘n man verdraai voor die aangesig van die Allerhoogste,

3:36 dat hulle ‘n mens onregverdig behandel in sy regsaak–het die HERE dit nie gesien nie?

3:37 Mem. Wie spreek daar, en dit gebeur? Het die Here dit nie beveel nie?

3:38 Gaan uit die mond van die Allerhoogste nie kwaad sowel as goed nie?

3:39 Wat klaag ‘n mens in sy lewe? Laat elkeen klaag oor sy sondes.

3:40 Noen. Laat ons ons weë naspeur en deursoek en ons tot die HERE bekeer;

3:41 laat ons ons hart saam met die hande ophef tot God in die hemel en sê:

3:42 Ons het oortree en ons was wederstrewig–U het nie vergewe nie.

3:43 Samek. U het U in toorn gehul en ons agtervolg, U het gedood sonder verskoning.

3:44 U het Uself in ‘n wolk gehul, sodat daar geen gebed kon deurdring nie;

3:45 U het ons ‘n uitvaagsel en ‘n wegwerpsel onder die volke gemaak.

3:46 Pe. Al ons vyande het hulle mond teen ons oopgerek;

3:47 skrik en kuil het ons deel geword, ondergang en verbreking.

3:48 My oog loop af in waterstrome oor die verbreking van die dogter van my volk.

3:49 Ajin. My oog vloei rusteloos weg sonder ophou,

3:50 totdat die HERE uit die hemel neersien en aanskou.

3:51 My oog gee my pyn oor al die dogters van my stad.

3:52 Sade. Hulle het my soos ‘n voël rondgejaag, die wat sonder oorsaak my vyande is;

3:53 hulle het my lewe in ‘n kuil tot niet gemaak en klippe op my gegooi.

3:54 Water het oor my hoof gestroom, ek het gesê: Dit is klaar met my!

3:55 Kof. Ek roep u Naam aan, HERE, uit die onderste kuil.

3:56 U hoor my stem; verberg u oor nie vir my ontboeseming, vir my hulpgeroep nie.

3:57 U kom nader die dag as ek U aanroep, U sê: Wees nie bevrees nie!

3:58 Resj. U, Here, verdedig my regsaak, U verlos my lewe.

3:59 U sien, HERE, my verdrukking; verskaf my tog reg.

3:60 U sien al hulle wraaksug, al hulle planne teen my.

3:61 Sjin. U hoor hulle smaadrede, HERE, al hulle planne teen my,

3:62 die lippe van my teëstanders en hulle bedenksels die hele dag teen my.

3:63 Aanskou tog hulle sit en hulle opstaan, ek is hulle spotlied.

3:64 Tau. U sal hulle vergeld vir wat hulle gedoen het, HERE.

3:65 U sal hulle gee verblinding van hart, u vervloeking oor hulle.

3:66 U sal hulle in toorn vervolg en hulle verdelg van onder die hemel van die HERE uit.