Index: Afrikaans

 

Deuternomium 32

[1]
[2]
[3]
[4]
[5]
[6]
[7]
[8]
[9]
[10]
[11]
[12]
[13]
[14]
[15]
[16]
[17]
[18]
[19]
[20]
[21]
[22]
[23]
[24]
[25]
[26]
[27]
[28]
[29]
[30]
[31]
[32]
[33]
[34]

32:1 Luister, o hemele, dat ek kan spreek, en laat die aarde hoor die woorde van my mond.

32:2 Laat my leer drup soos die reën, my woord vloei soos die dou, soos reëndruppels op die grasspruitjies en soos reënbuie op die plante.

32:3 Want die Naam van die HERE roep ek uit: Gee grootheid aan onse God!

32:4 Die Rots–volkome is sy werk; want al sy weë is strafgerigte; ‘n God van trou en sonder onreg; regverdig en reg is Hy.

32:5 Hulle het verderflik teen Hom gehandel–die wat sy seuns nie was nie, maar hulle skandvlek–‘n verkeerde en verdraaide geslag.

32:6 Durf julle dit die HERE vergelde, o dwase en onwyse volk? Is Hy nie jou Vader wat jou geskape het nie; het Hy jou nie gemaak en jou toeberei nie?

32:7 Dink aan die dae van die ou tyd, let op die jare, van geslag tot geslag; vra jou vader, dat hy jou dit bekend maak; die ou mense, dat hulle jou dit sê.

32:8 Toe die Allerhoogste aan die nasies ‘n erfdeel gegee het, toe Hy die mensekinders van mekaar geskei het, het Hy die grense van die volke vasgestel volgens die getal van die kinders van Israel.

32:9 Want die HERE se deel is sy volk, Jakob is sy afgemete erfdeel.

32:10 Hy het hom gevind in ‘n woestynland en in ‘n woeste wêreld, vol gehuil van die wildernis; Hy het hom omring, op hom ag gegee, hom bewaak soos sy oogappel.

32:11 Soos ‘n arend sy nes opwek, oor sy kleintjies sweef, sy vlerke uitsprei, hulle opneem, hulle dra op sy vleuels–

32:12 die HERE alleen het hom gelei, en daar was geen vreemde god by hom nie.

32:13 Hy het hom laat ry op die hoogtes van die aarde, en hy het die opbrings van die veld geëet; en Hy het hom heuning uit die rots laat suig en olie uit die klipharde rots;

32:14 dikmelk van beeste en melk van kleinvee, met die vet van lammers en ramme; stiere van Basan en bokke, met die niervet van koring; en druiwebloed het jy gedrink, skuimende wyn.

32:15 Toe het Jesúrun vet geword en agterop geskop–jy het vet geword, dik geword, spekvet geword–en hy het God verwerp wat hom gemaak het, en die steenrots van sy heil geminag.

32:16 Hulle het deur vreemde gode sy ywer gewek; deur gruwels Hom geterg.

32:17 Hulle het aan die duiwels geoffer, wat nie-God is, gode wat aan hulle nie bekend was nie; nuwes wat kort gelede opgekom het, vir wie julle vaders nie gehuiwer het nie.

32:18 Die Steenrots wat jou verwek het, het jy veronagsaam; en jy het die God vergeet wat jou voortgebring het.

32:19 Toe die HERE dit sien, het Hy hulle verwerp, uit ergernis oor sy seuns en dogters.

32:20 En Hy het gesê: Ek wil my aangesig vir hulle verberg, Ek wil sien wat hulle einde sal wees; want ‘n heeltemal verkeerde geslag is hulle, kinders in wie geen trou is nie.

32:21 Hulle het my ywer gewek deur wat nie-God is, My geterg deur hulle nietige afgode. Ék sal dan hulle ywer wek deur die wat ‘n nie-volk is, deur ‘n dwase nasie sal Ek hulle terg.

32:22 Want ‘n vuur is aangesteek in my toorn en het gebrand tot in die doderyk daaronder, en dit het die aarde met sy opbrings verteer en die fondamente van die berge aan die brand gesteek.

32:23 Ek sal onheile op hulle ophoop; my pyle sal Ek op hulle wegskiet.

32:24 As hulle uitgeput is van honger en verteer deur koorsgloed en dodelike siekte, sal Ek die tand van wilde diere teen hulle loslaat met die gif van stofkruipers.

32:25 Buitekant sal die swaard beroof, en in die binnekamers die verskrikking; die jongman sowel as die jongedogter, die suigling saam met die grysaard.

32:26 Ek sou gesê het: Ek wil hulle wegblaas, hulle gedagtenis onder die mense uitroei–

32:27 as Ek nie vir die terging van die vyand bedug was nie, dat hulle teëstanders dit sou misverstaan en sê: Ons hand was hoog, en die HERE het dit alles nie gedoen nie.

32:28 Want ‘n nasie van verlore raadsplanne is hulle, en daar is geen verstand in hulle nie.

32:29 Was hulle wys, hulle sou dit insien, hulle sou op hulle einde let.

32:30 Hoe kan een dan duisend agtervolg en twee tien duisend op die vlug jaag, was dit nie dat hul steenrots hulle verkoop en die HERE hulle oorgelewer het nie!

32:31 Want hulle steenrots is nie soos ons Steenrots nie–ja, ons vyande self is skeidsregters!

32:32 Want hulle wingerdstok is uit die wingerdstok van Sodom en uit die wingerde van Gomorra; hulle druiwe is giftige druiwe, bitter trosse dra hulle.

32:33 Hulle wyn is slanggif en wrede addergif.

32:34 Is dit nie by My opgegaar, in my skatkamers verseël nie?

32:35 My kom die wraak toe en die vergelding, op die tyd as hulle voet sal wankel; want die dag van hulle ondergang is naby, en wat oor hulle beskik is, kom gou.

32:36 Want die HERE sal aan sy volk reg verskaf, en Hy sal medelyde hê met sy knegte as Hy sien dat hulle vashouplek weg is en dit met almal sonder uitsondering gedaan is.

32:37 Dan sal Hy sê: Waar is hulle gode, die steenrots waarin hulle toevlug geneem het,

32:38 wat die vet van hulle slagoffers geëet het, die wyn van hulle drankoffer gedrink het? Laat hulle opstaan en julle help, dat daar oor julle ‘n beskerming kan wees!

32:39 Aanskou nou dat dit Ek is en dat daar geen god naas My is nie; Ek maak dood en maak lewend, Ek het verbrysel en Ek genees; en daar is niemand wat uit my hand red nie.

32:40 Want Ek sal my hand na die hemel ophef en sê: So waar as Ek ewig leef–

32:41 as Ek my glinsterende swaard skerp gemaak het en my hand na die strafgerig gryp, sal Ek wraak oefen op my teëstanders en my haters vergelde.

32:42 Ek sal my pyle dronk maak van bloed, en my swaard sal vlees eet: van die bloed van hom wat verslaan en gevang is, van die kop van die vyand se aanvoerders.

32:43 Jubel, o nasies, oor sy volk, want Hy sal die bloed van sy knegte wreek, en Hy sal wraak oefen op sy teëstanders en versoening doen vir sy land en sy volk.

32:44 En Moses het gekom en al die woorde van hierdie lied voor die ore van die volk gespreek, hy en Hoséa, die seun van Nun.

32:45 En toe Moses met al hierdie woorde die hele Israel klaar toegespreek het,

32:46 sê hy vir hulle: Gee ag op al die woorde waarmee ek julle vandag waarsku, dat julle dit jul kinders beveel om al die woorde van hierdie wet sorgvuldig te hou.

32:47 Want dit is geen vergeefse woord vir julle nie, maar dit is julle lewe; en deur hierdie woord sal julle die dae verleng in die land waarheen julle deur die Jordaan trek om dit in besit te neem.

32:48 Daarna het die HERE op daardie selfde dag met Moses gespreek en gesê:

32:49 Klim op hierdie gebergte Abárim, die berg Nebo, wat in die land Moab is, wat teenoor Jérigo lê, en aanskou die land Kanaän wat Ek aan die kinders van Israel as besitting sal gee;

32:50 en sterwe op die berg waarheen jy opklim, en word versamel by jou volksgenote, soos jou broer Aäron gesterf het op die berg Hor en versamel is by sy volksgenote,

32:51 omdat julle onder die kinders van Israel ontrou teen My gehandel het by die twiswater van Kades, in die woestyn Sin, omdat julle My nie geheilig het onder die kinders van Israel nie.

32:52 Want reg voor sal jy die land sien, maar jy sal daar nie inkom, in die land wat Ek aan die kinders van Israel sal gee nie.