We Love God!

God: "I looked for someone to take a stand for me, and stand in the gap" (Ezekiel 22:30)

Jesus: the human face of God

Bible – Afrikaans – Die Evangelie volgens Mattheus Chapter 22:1-46.

Index: Afrikaans

 

Die Evangelie volgens Mattheus 22

[1]
[2]
[3]
[4]
[5]
[6]
[7]
[8]
[9]
[10]
[11]
[12]
[13]
[14]
[15]
[16]
[17]
[18]
[19]
[20]
[21]
[22]
[23]
[24]
[25]
[26]
[27]
[28]

22:1 En Jesus het weer deur gelykenisse met hulle begin spreek en gesê:

22:2 Die koninkryk van die hemele is soos ‘n koning wat ‘n bruilof vir sy seun berei het

22:3 en sy diensknegte uitgestuur het om die genooides na die bruilof te roep, en hulle wou nie kom nie.

22:4 Weer het hy ander diensknegte uitgestuur met die boodskap: Sê vir die genooides: Kyk, my maaltyd het ek berei, my beeste en vetgemaakte vee is geslag en alles is gereed. Kom na die bruilof.

22:5 Maar hulle het hul daaraan nie gesteur nie en weggegaan, een na sy eie stuk land en ‘n ander na sy handelsaak.

22:6 En die origes het sy diensknegte gegryp en mishandel en doodgemaak.

22:7 Toe die koning dit hoor, het hy kwaad geword en sy manskappe gestuur en daardie moordenaars omgebring en hulle stad aan die brand gesteek.

22:8 Daarop sê hy vir sy diensknegte: Die bruilof is wel gereed, maar die genooides was dit nie werd nie.

22:9 Gaan dan op die kruispaaie en nooi almal wat julle mag vind, na die bruilof.

22:10 En daardie diensknegte het uitgegaan op die paaie en almal versamel wat hulle gevind het, slegtes sowel as goeies, en die bruilofsaal het vol gaste geword.

22:11 En toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar iemand wat nie ‘n bruilofskleed aan het nie.

22:12 En hy sê vir hom: Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder ‘n bruilofskleed aan? En hy kon geen woord sê nie.

22:13 Toe sê die koning vir sy dienaars: Bind sy hande en voete, neem hom weg en werp hom in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande.

22:14 Want baie is geroep, maar min uitverkies.

22:15 Toe gaan die Fariseërs saam raad hou hoe om Hom in sy woord te verstrik.

22:16 En hulle stuur hul dissipels saam met die Herodiane na Hom en sê: Meester, ons weet dat U waaragtig is en die weg van God in waarheid leer en U aan niemand steur nie, want U sien nie die persoon van mense aan nie–

22:17 sê dan vir ons, wat dink U: Is dit geoorloof om aan die keiser belasting te betaal of nie?

22:18 Maar Jesus het hulle boosheid bemerk en gesê:

22:19 Geveinsdes, waarom versoek julle My? Wys My die belastingmunt. En hulle het vir Hom ‘n penning gebring.

22:20 En Hy sê vir hulle: Wie se beeld en opskrif is dit?

22:21 Hulle antwoord Hom: Die keiser s’n. Daarop sê Hy vir hulle: Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom.

22:22 En toe hulle dit hoor, was hulle verwonderd en het Hom verlaat en weggegaan.

22:23 Dieselfde dag kom daar na Hom Sadduseërs, hulle wat sê dat daar geen opstanding is nie, en vra Hom

22:24 en sê: Meester, Moses het gesê: As iemand sonder kinders sterwe, moet sy broer sy vrou trou en kinders vir sy broer verwek.

22:25 Nou was daar by ons sewe broers, en die eerste het getrou en gesterwe; en omdat hy geen kinders gehad het nie, het hy sy vrou vir sy broer agtergelaat.

22:26 So ook die tweede en die derde tot die sewende toe.

22:27 En laaste van almal het die vrou ook gesterwe.

22:28 In die opstanding dan, van watter een van die sewe sal sy die vrou wees–want hulle almal het haar gehad?

22:29 Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie.

22:30 Want in die opstanding trou hulle nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie, maar is soos engele van God in die hemel.

22:31 En wat die opstanding van die dode betref–het julle nie die woord gelees wat tot julle deur God gespreek is nie:

22:32 Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob? God is nie ‘n God van dooies nie, maar van lewendes.

22:33 En toe die skare dit hoor, was hulle verslae oor sy leer.

22:34 En toe die Fariseërs hoor dat Hy die Sadduseërs die mond gestop het, het hulle almal saam vergader.

22:35 En een van hulle, ‘n wetgeleerde, het ‘n vraag gestel om Hom te versoek en gesê:

22:36 Meester, wat is die groot gebod in die wet?

22:37 En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.

22:38 Dit is die eerste en groot gebod.

22:39 En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

22:40 Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.

22:41 En toe die Fariseërs saamgekom het, vra Jesus hulle

22:42 en sê: Wat dink julle van die Christus? Wie se seun is Hy? Hulle antwoord Hom: Dawid s’n.

22:43 Hy sê vir hulle: Hoe is dit dan dat Dawid Hom in die Gees Here noem as hy sê:

22:44 Die Here het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand totdat Ek u vyande gemaak het ‘n voetbank van u voete?

22:45 As Dawid Hom dan Here noem, hoe is Hy sy seun?

22:46 En niemand kon Hom ‘n woord antwoord nie; ook het geeneen van daardie dag af dit meer gewaag om Hom vrae te stel nie.