We Love God!

God: "I looked for someone to take a stand for me, and stand in the gap" (Ezekiel 22:30)

Jesus: stripped, abused, assaulted, violated . . . for you

Bible – Afrikaans – Die Evangelie volgens Mattheus Chapter 25:1-46.

Index: Afrikaans

 

Die Evangelie volgens Mattheus 25

[1]
[2]
[3]
[4]
[5]
[6]
[7]
[8]
[9]
[10]
[11]
[12]
[13]
[14]
[15]
[16]
[17]
[18]
[19]
[20]
[21]
[22]
[23]
[24]
[25]
[26]
[27]
[28]

25:1 Dan sal die koninkryk van die hemele wees soos tien maagde wat hulle lampe geneem en uitgegaan het om die bruidegom te ontmoet.

25:2 En vyf van hulle was verstandig en vyf dwaas.

25:3 En toe die wat dwaas was, hul lampe neem, het hulle geen olie met hulle saamgeneem nie.

25:4 Maar die verstandiges het olie in hulle kanne saam met hul lampe geneem.

25:5 En terwyl die bruidegom talm om te kom, het hulle almal vaak geword en aan die slaap geraak.

25:6 En middernag was daar ‘n geroep: Daar kom die bruidegom; gaan uit hom tegemoet!

25:7 Toe staan al daardie maagde op en maak hulle lampe gereed.

25:8 En die wat dwaas was, sê aan die verstandiges: Gee vir ons van julle olie, want ons lampe gaan uit.

25:9 Maar die verstandiges antwoord en sê: Miskien sal daar nie genoeg wees vir ons en vir julle nie. Maar gaan liewer na die verkopers en koop vir julleself.

25:10 En onderwyl hulle gaan om te koop, het die bruidegom gekom. En die wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof, en die deur is gesluit.

25:11 Later kom toe die ander maagde ook en sê: Meneer, meneer, maak vir ons oop!

25:12 Maar hy antwoord en sê: Voorwaar ek sê vir julle, ek ken julle nie.

25:13 Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie.

25:14 Want dit is soos ‘n man wat op reis wou gaan en sy diensknegte roep en aan hulle sy besittings toevertrou.

25:15 En aan die een gee hy vyf talente en aan die ander twee en aan die ander een, aan elkeen na sy vermoë; en hy het dadelik op reis gegaan.

25:16 En die een wat die vyf talente ontvang het, het daarmee gaan werk en vyf ander talente gewin.

25:17 Net so het die een wat die twee ontvang het, self ook twee ander verdien.

25:18 Maar hy wat die een ontvang het, het in die grond gaan grawe en die geld van sy heer weggesteek.

25:19 En ná ‘n lang tyd het die heer van daardie diensknegte gekom en met hulle afgereken.

25:20 En die een wat die vyf talente ontvang het, kom en bring vyf ander talente en sê: Meneer, vyf talente het u aan my toevertrou; hier het ek vyf ander talente daarby verdien.

25:21 En sy heer sê vir hom: Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer.

25:22 En die een wat die twee talente ontvang het, kom ook en sê: Meneer, twee talente het u aan my toevertrou; hier het ek twee ander talente daarby verdien.

25:23 Sy heer sê vir hom: Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer.

25:24 En die een wat die een talent ontvang het, kom ook en sê: Meneer, ek het u geken, dat u ‘n harde man is wat maai waar u nie gesaai het nie, en bymekaarmaak waar u nie uitgestrooi het nie;

25:25 omdat ek bang was, het ek gegaan en u talent in die grond weggesteek. Hier het u wat aan u behoort.

25:26 Maar sy heer antwoord en sê vir hom: Jou slegte en luie dienskneg, jy het geweet dat ek maai waar ek nie gesaai het nie, en bymekaarmaak waar ek nie uitgestrooi het nie.

25:27 Daarom moes jy my geld by die wisselaars gestort het, en ek sou by my koms wat aan my behoort, met rente ontvang het.

25:28 Neem dan die talent van hom weg en gee dit aan die een wat die tien talente het;

25:29 want aan elkeen wat het, sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het.

25:30 En werp die nuttelose dienskneg uit in die buitenste duisternis; daar sal geween wees en gekners van die tande.

25:31 En wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit;

25:32 en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei;

25:33 en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit.

25:34 Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af.

25:35 Want Ek het honger gehad, en julle het My te ete gegee; Ek het dors gehad, en julle het My te drinke gegee; Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My herberg gegee;

25:36 Ek was naak, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek, en julle het na My gekom.

25:37 Dan sal die regverdiges Hom antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed; of dors, en te drinke gegee?

25:38 En wanneer het ons U ‘n vreemdeling gesien, en herberg gegee; of naak, en geklee?

25:39 En wanneer het ons U siek gesien of in die gevangenis, en na U gekom?

25:40 En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.

25:41 Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele.

25:42 Want Ek het honger gehad, en julle het My nie te ete gegee nie; Ek het dors gehad, en julle het My nie te drinke gegee nie.

25:43 Ek was ‘n vreemdeling, en julle het vir My nie herberg gegee nie; naak, en julle het My nie geklee nie; siek en in die gevangenis, en julle het My nie besoek nie.

25:44 Dan sal hulle Hom ook antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien of dors of ‘n vreemdeling of naak of siek of in die gevangenis, en U nie gedien nie?

25:45 Dan sal Hy hulle antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit nie gedoen het aan een van hierdie geringstes nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie.

25:46 En hulle sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe.