We Love God!

God: "I looked for someone to take a stand for me, and stand in the gap" (Ezekiel 22:30)

Actions DO speak louder than words. Do Jesus'?

Bible – Afrikaans – Spreuke van Salomo Chapter 15:1-33.

Index: Afrikaans

 

Spreuke van Salomo 15

[1]
[2]
[3]
[4]
[5]
[6]
[7]
[8]
[9]
[10]
[11]
[12]
[13]
[14]
[15]
[16]
[17]
[18]
[19]
[20]
[21]
[22]
[23]
[24]
[25]
[26]
[27]
[28]
[29]
[30]
[31]

15:1 ‘n Sagte antwoord keer die grimmigheid af, maar ‘n krenkende woord laat die toorn opkom.

15:2 Die tong van die wyse getuig van grondige kennis, maar die mond van die dwase laat sotheid uitborrel.

15:3 Op elke plek is die oë van die HERE, en hulle beskou opmerksaam die slegtes en die goeies.

15:4 Sagtheid van tong is ‘n lewensboom, maar valsheid daarin is verbreking in die gees.

15:5 Die sot verag die tug van sy vader, maar hy wat op die teregwysing ag gee, word wys.

15:6 In die huis van die regverdige is ‘n groot skat, maar in die inkomste van die goddelose is verwarring.

15:7 Die lippe van die wyse strooi kennis uit, maar die hart van die dwase is nie reg nie.

15:8 Die offer van die goddelose is vir die HERE ‘n gruwel, maar die gebed van die opregtes is Hom welgevallig.

15:9 Die wandel van die goddelose is vir die HERE ‘n gruwel, maar hom wat geregtigheid najaag, het Hy lief.

15:10 ‘n Strenge tugtiging is daar vir hom wat die pad verlaat; hy wat die teregwysing haat, sal sterwe.

15:11 Die doderyk en die plek van vertering lê oop voor die HERE, hoeveel te meer die harte van die mensekinders!

15:12 Die spotter hou nie daarvan dat ‘n mens hom bestraf nie, hy gaan nie na die wyse toe nie.

15:13 ‘n Vrolike hart maak die aangesig bly, maar by verdriet van die hart is die gees neerslagtig.

15:14 Die hart van die verstandige soek na kennis, maar die mond van die dwase gaan met sotheid om.

15:15 Al die dae van die bedrukte is sleg, maar die vrolike van hart het gedurigdeur fees.

15:16 Liewer ‘n bietjie in die vrees van die HERE, as ‘n groot skat en onrus daarby.

15:17 Liewer ‘n porsie groente waar liefde by is, as ‘n vetgevoerde bees en haat daarby.

15:18 ‘n Driftige man verwek twis, maar die lankmoedige laat die geskil bedaar.

15:19 Die weg van die luiaard is soos ‘n heining van dorings, maar die pad van die opregtes is reggemaak.

15:20 ‘n Wyse seun verbly sy vader, maar ‘n dwase mens verag sy moeder.

15:21 Sotheid is ‘n vreugde vir die verstandelose, maar ‘n man van verstand wandel reguit.

15:22 Planne misluk sonder beraadslaging, maar deur die veelheid van raadgewers kom dit tot stand.

15:23 ‘n Man het blydskap in die regte antwoord van sy mond, en hoe goed is ‘n woord op sy tyd!

15:24 Die pad van die lewe gaan vir die verstandige na bowe, sodat hy die doderyk daaronder ontwyk.

15:25 Die HERE ruk die huis van die trotsaards om, maar die grenslyn van die weduwee stel Hy vas.

15:26 Die planne van die slegte is vir die HERE ‘n gruwel, maar vriendelike woorde is rein.

15:27 Wie onregverdige wins maak, bring sy huis in beroering; maar hy wat geskenke haat, sal lewe.

15:28 Die hart van die regverdige dink ná om te antwoord, maar die mond van die goddelose laat slegte dinge uitborrel.

15:29 Die HERE is ver van die goddelose, maar die gebed van die regverdiges hoor Hy.

15:30 Stralende oë verbly die hart; ‘n goeie tyding maak die gebeente vet.

15:31 Die oor wat na die teregwysing tot die lewe luister, sal onder die wyse vertoef.

15:32 Hy wat die tug verwerp, ag sy eie lewe gering; maar hy wat na die teregwysing luister, verkry verstand.

15:33 Die vrees van die HERE is die tug van die wysheid, en nederigheid gaan aan die eer vooraf.